Departement van Musiek

Doelstelling
Om 'n liefde vir ernstige en ligte musiek te week en leerders omhoog te lei in die waardering van musiek, kennis en uitvoering van musiek.
Instrumente waarin buite-kurrikulêre onderrig ontvang word:
Ligte musiek
Klavier, sang, kitaar en perkussie
Ernstige musiek
klavier, sang, blokfluit, fluit, klarinet, kitaar en trompet
Koorsang
Die konsertkoor onderneem ongeveer twee toere per jaar en tree ook gereeld in en om Lady Grey op.  Die koor oefen daagliks, bestaan uit ongeveer 60 lede en is onder leiding van Mnr. Botes Gresse en Mnr. Pieter Taljaard.
Die Juniorkoor bestaan uit ongeveer 60 lede vanaf Graad 1 tot 5.  Optredes en deelname aan Eisteddfods vind gereeld plaas. Die Junior-koor konsentreer op basiese asemhalingstegnieke, intonasie, uitspraak en die genot van koorsang.  Die Junior-koor is onder leiding van Mejj. Marliza den Heyer en Malanie Ferreira.
Ander aktiwiteite
Daar word op 'n jaarlikse basis ingeskryf vir die UNISA, ALMSA en Trinity eksamens.  Ander geleenthede vir deelname is skoolfufunksies, musiek kompetisies en Eisteddfods.  Die Oos-Sirkel Eisteddfod vind ook jaarliks in Lady Grey plaas.
Musiekopvoeding
Musiekopvoeding word aan alle leerlinge in die Pre-Primêre vlak tot Graad 7 aangebied.  Aanvanklik word klem gelê op die ervaring en belewing van die liedere, ritme en toonhoogtes.   Die leerlinge moet aan die einde van Graad 7 musiek kan lees en skryf tot op die UNISA Graad 2 teorie standaard.
Musiek as vak
Musiek word vanaf Graad 8 - 12 as 'n vak aangebied.
Graad 8
In geskiedenis word die verskillende styltydperke bestudeer en die vorm-analise en die orkes word hierby geïntegreer.  Die harmonie volg die sillabus van die Oos-Kaap maar UNISA Graad 3 Teorie word vereis.  Leerders word aangemoedig om so vroeg moontlik met 'n instrument of instrumente te begin.  Ensemble werk is 'n vereiste vir alle leerlinge.
Graad 9
Drie verskillende komponiste uit die verskillende styl tydperke word bestudeer en werkstukke word in die tweede kwartaal afgehandel.  UNISA Graad 4 Teorie word vereis aan die einde van Graad 9.  Instrumentaal kan leerders een instrument as vak neem en enige ander instrument word buite-kurrikulêr geneem.
Graad 10 - 12
Die Graad 10 - 12 geskiedenis sillabus van die Oos=Kaap, wat die leerkrag die keuse laat watter afdelings hy/sy kan volg, word aangebied.  UNISA Graad 5 en 6 word in die bestek van hierdie 3 jare aangebied en ingeskryf.
Die praktiese instrumente word as hoofvak (op HG en SG) en as tweede instrument (SG) aangebied.

Copyright © 2000 Lady Grey Arts Academy
Last modified: February 09, 2001 19:15