Die Beeldende Kunste

Graad 1-7

Kuns onderrig word vanaf Graad 1 tot 7 as deel van die skool leerplan met die oog op die totale ontwikkeling van die leerder met betrekking tot kuns en kunswaardering. Klem word van jongs af gelê op die volgende:

Aanvanklike bewuswording wat berus op kyk, inoefening om te sien, om te definieer en sensitief te wees vir herkenning, selektering, waarneming en met die oog op die verwerking van kennis, begrip en evalueringsvermoë.

Aandag word gegee aan 'n atmosfeer wat kreatiwiteit sal aanmoedig en bevorder, organisasie met die oog op 'n gebalanseerde werksskema en die gebruik en sorg van materiale en die noodsaaklikheid om die nodige stimulasie te skep om leerders te motiveer.

Die doelstellings van die onderrigprogram is om kreatiewe ontwikkeling te bevorder, praktiese vaardighede te ontwikkel en probleem oplossingsvaardighede aan te moedig. Leerders word bewus gemaak van die verwantskap tussen die alledaagse lewe en kuns. Waardering vir eie kultuur word gekweek en 'n omgewingword geskep wat verdraagsaamheid bevorder en bevooroordeling bestry. Leerders word aangemoedig om selfvertroue, selfdissipline, kitiese en kommunikasie vaardighede, verbeelding, vindingrykheid en spontaniteit te ontwikkel. Leerders word aangemoedig om 'n basiese kunswoordeskat op te bou. Medium en tegniek word ookondersoek. Die onderrigprogram dien as basis vir die vakwerk wat vanaf Graad 8 aangebied word.

Graad 8- 12

Die Departement bied die volgende vakke aan:
Grafiese Kuns, Grafiese Ontwerp, Beeldbou en Skilderkuns. Kunsgeskiedenis is opsioneel, maar word verpligtend sodra 'n leerder drie of meer kunsvakke neem. Tekenkuns is verpligtend vir elke vak.

Vakkeuse

In Graad 8-9 moet die leerder al die kusnvakke neem. Dit sluit Kunsgeskiedenis, Skilderkuns, Grafiese Ontwerp, Grafiese Kuns(Drukprosesse) en Beeldhou in. In Graad 10-12 mag die leerder sy eie vakke kies. 'n Maksimum van 4 vakke kan geneem word. Tekenkuns is verpligtend vir elke praktiese vak. Indien die leerder drie kunsvakke neem moet hy/sy Kunsgeskiedenis neem saam met een van sy/haar praktiese vakke. Hierdie vak is dan op HG of SG. Indien die leerder slegs 'n praktiese vak neem is dit 'n SG vak. Daar moet wel 'n navorsingsprojek gedoen word in die vak.

Doelstellings: Prakties

  • om praktiese vaardighede, sensitiwiteit, selfvertroue en waagmoed op kunsgebiede te ontwikkel.

  • om onafhanklik te wees en eie besluite te neem oor 'n werk wat in hulle werk gemanifesteer word en bewys te lewer van hul eie estetiese onderskeidingsvermoë.

  • om te weet wat elke medium kan verrig en wat die voor en nadele van elke medium is

  • om met verkillende tegnieke en style te werk om onderskeidingsvermoë by leerlinge te ontwikkel

  • om hulle in staat te stel om hulle eie kunsaktiwiteite en werke van ander kunstenaars te evalueer.

  • om waarneming asook die leerling se oog te oefen om van 3-dimensionele voorwerpe af te teken.

Doelstellings: Geskiedenis

  • om 'n begrip van kuns in historiese, geografiese, religieuse en sosiale konteks te ontwikkel

  • om leerlinge in te lig oor die rol en die oogmerk van die kunstenaar en kuns in die samelewing

  • om leerlinge te verryk deur 'n kritiese bewustheid van hulle omgewing aan te moedig

  • om leerlinge visueel geletterd te maak -om aan leerlinge 'n sosiaal-historiese agtergrond van kunsskepping te gee

  • om geleenthede vir die leerders te skep om historiese bronne te bestudeer en om direkte kontak met oorspronklike kunswerke te hê -om leerlinge die prosedure en metodes van kunshistoriese navorsing te leer

  • om leerlinge in staat te stel om te onderskei tussen verkillende navorsingsmetodes.

Media waarin gewerk word in die verkillende vakke

Grafiese Kuns

Hier word met verskillende drukprosesse gewerk: lino, kleur lino, monodrukke, etse, houtsnee en syskerm drukke
Skilderkuns
Hier word met akriel op doek geskilder asook met gemengde media.
Beeldhou
Hout, sement, sementfondue, keramiekbeeldhou, draad, gemengde media, gips en metaal
Die basiese leerplan
Graad 8
In Graad 8 word die leerders aan al die vakke bekend gestel om sodoende 'n ingeligte keuse te kan maak in graad 10. Die basiese formele elemente word ook aan die leerders bekend gestel.
Graad 9
Nuwe tegnieke word in al die vakke aangeleer
Graad 10
Die leerders moet kies met watter vakke hulle wil aangaan. Hulle word dan aan die verskillende genre bekend gestel om sodoende verder keuses te kan maak ten opsigte van 'n eie onderwerp en gebied vir verdere studie.
Graad 11
Die leerders kies hulle eie onderwerpe en werk volgens hierdie temas. Hier word klem gelê oor die stelling wat aan die betragter oorgedra moet word. Dit is belangrik om te verstaan in kuns dat ons besig is met 'n medium wat 'n stelling kan en moet maak en ook hoe om die stelling subtiel oor te dra. Ons is geneig om dinge te direk uit te beeld en verloor gevolglik soms die boodskap. Die betragter se verbeelding moet geprikkel word om soedoende van sy/haar eie persoonlike ondervinding gebruik te maak.
Graad 12
Die leerder werk verder aan sy eie tema. Die leerder kan selfs met 'n nuwe tema begin aangesien dit belangrik is om te onthou dat die leerders besig is om die lewe te ondersoek en konstant aan nuwe dinge blootgestel word. kuns handel oor emosies van die mens en dit is moeilik om nie emosioneel betrokke te wees by die vak nie.
Algemeen
Die leerders is nie net betrokke by akademie nie. Hulle word ook betrek by Drama. Hulle word ook geleer om dekor te ontwerp asook die klere vir die produksies wat deur die skool aangebied word. Hulle leer dus ook hoe kuns in die praktyk gebruik word. Die leerders reë ook hulle eie kunsuitstallings waar hulle betrokke is by die ontwerp van die plakate, voorsiening van verversings, die uitstal van die werke en hoe om hulle werke te bemark. Hulle moet self pryse maak vir hulle eie werke en die verkoop daarvan. Daar word ook aan kompetisies deelgeneem bv. die internasionale Santam Kinderkuns kompetisie asook die Eistedfod. Heelwat werke van die Lady Grey Kunste Akademie is al gekies hiervoor. Daar word ook werkswinkels gereël sodat die leerders onderrig kan ontvang van buite persone. Dit is belangrik dat die leerders blootgestel word aan ander leerwyses. Besoeke aan kunsgallerye en museums word gereël sodat kontemporere en historiese werke gesien kan word. Daar word gepoog om die leerders soveel as moontlike blootstelling te gee aangesien kuns nie in isolasie kan ontwikkel nie.

Copyright © 2000 Lady Grey Arts Academy
Last modified: February 08, 2001 22:53